Hul name sal
nooit weer vergeet word nie...
Laaste
Opdatering:
1 November 2023
SKUITE NUUSBLAD / TRAWLER NEWSPAGE

(Periode:
16 Augustus 2022 - 15 Oktober 2023)
BESOEK DIE S.A.VISSERYE MUSEUM
Waar die
geskiedenis van ons visbedryf bly voortleef


|
VISTREILER PROFIELE

KOMMERSIëLE SKI-BOOT
PROFIELE
NUUTSTE
SKI-BOOT PROFIELE
BETTY BLUE
(06/06/2023)
BLUE SKY (06/06/2023)
HARREGAT 2 (06/06/2023)
KAPTEIN (06/06/2023)
MARIE-JOE
(06/06/2023)
PETTO
(06/06/2023)


AN EMBLEM OF
PROUD
WORKMANSHIP

The sticker above is displayed on the CAT 3412 main engine of the
Cape Town based longliner "Cape Challenger". The sticker "Caterpillar - always brings
you home " is exclusively used by Ritco Marine situated in Brackenfell, who
besides installation work, also service and maintain the machinery onboard the "Cape
Challenger".
NUUTSTE VIDEO OP DIE
KANAAL VAN
TRAWLKAMPIOENE
"ADENIA"
GOOI DIE VIS VREK!
24 JUNIE 2023
101.9% van die Suid-Afrikaanse
populasie sal nie die vreugde, nog die inhoud van die video
hieronder verstaan nie - behalwe vir die regte
trawlkampioene!
|
HOUTBAAI - 22 JUNIE 2023
DIS HOE ONS
TRAWL! - MEI 2023
DEEL 2
Die musiek is swaar, maar so ook die
skeppe vis, met purse-drade wat kreun, terwyl die trawlkampioene
amok maak onder die skole ansjovis buitekant Shelly Point en
Bobbejaansberg gedurende Mei-maand 2023.
HOUTBAAI
- 15 MEI 2023
DIS
HOE ONS TRAWL! - MEI 2023
Trawler Heritage is bewus van die feit
dat hierdie webwerf daagliks deur talle kleuters en laerskool
kinders besoek word, omrede dat hulle wil net skuite wil sien!
So, moet dus nie verbaas wees as die kleingoed na afloop van
hierdie video gaan sê "ma, pa, ek wil eendag gaan trawl". In
die video hieronder word die room van ons pelagiese vloot
uitgebeeld vanwaar die trawlkampioene amok maak onder skole
pelagiese vis wat oor die afgelope paar dae langs ons kuslyn
gevang was. Trawler Heritage het al telkens gewonder of dit ooit
moontlik sou wees om 'n trawlskuit video te skep op die maat van
"heavy metal" musiek? Gegewe die inhoud van die video hieronder,
dink ek daardie vraag het hom sommer self beantwoord. Sit aan
die klank, draai die volume oop, en speel dit met trots! Tot 'n
volgende keer, stywe lyne en vol nette!
HOUTBAAI - 29 MAART 2023
SANDY POINT & HOUTBAAI
30 JANUARIE & 1 FEBRUARIE 2023
HOUTBAAI - 11 FEBRUARIE 2023
"OCEANA
CONCORDE" 2003 - 2023*
In die video
hieronder bring ons hulde aan nog een van ons getroue stryd-osse
in die vloot - "Oceana Concorde". Dit is maar nou so dat orals
waar Trawler Heritage gaan, daar is "Concorde", en orals waar
"Concorde" gaan, daar is Trawler Heritage. Hieronder word
"Oceana Concorde" uitgebeeld oor die afgelope twintig seisoene,
vanaf 2003 tot en met 2023.
HOUTBAAI - 24 FEBRUARIE 2023
HOUTBAAI - 3 MAART 2023
|
"ATLANTIC ENTERPRISE"
DIE
VISSERMANNE SE TROTS!
In die video hieronder vervaardig
deur Weskaap Aktueel, word die harde realiteit van 'n pelagiese
visserman uitgebeeld wanneer 'n skuit vir maande lank
buite aksie is weens masjienerie wat onverwags onklaar raak gedurende
die visvangseisoen.
|
LAAIPLEK
SE REGERINGSKAAI Lê
IN PUIN
Wag so bietjie, siende dat dit vandag
Nasionale Jeugdag is, mag die jeug in die visbedryf mos sekerlik hul
opinie lug aangaande die stand van sake in ons bedryf(?)! Afgeneem hieronder op 5 Junie 2023 is die
huidige kondisie van die Regeringskaai op Laaiplek wat nou feitlik
op 'n daaglikse basis besig is om te disintegreer weens 'n gebrek aan
instandhouding. Die naam van die kaai (Regeringskaai) is alreeds 'n
aanduiding wie die eienaar is van hierdie kaai, wat ook verantwoordelik
is vir die instandhouding daarvan. Die jetty wat vanjaar alreeds 55 jaar
oud is, het oor die laaste 29 jaar sedert 1994 feitlik geen
instandhoudingswerk ondergaan nie - die direkte gevolg van 'n
disfunksionele regering en onbevoegde regeringsdepartemente wat
verantwoordelik is vir die behoud van hierdie tipe van infrastruktuur. Moenie met
die ou verskoning vorendag kom dat daar nie voldoende fondse beskikbaar
is nie! Waarheen gaan elke visserman se belastinggeld dan heen? Waar is
die geld vir die belastingheffing vir elke liter diesel wat die skuite
gebruik? Waar is die belastinggeld vir elke meter visnet, tou of vislyn
wat gebruik word? Waar is die doeane en aksynsbelasting wat gehef word
vir al die peperduur toerusting wat ingevoer word om ons vloot en
visfabrieke aan die gang te hou? Waar is die BTW vir elke blikkie vis
wat verkoop word? En dan is daar nie geld nie? Dit is die direkte gevolg
van 'n regering wat homself eerder daartoe verbind om te steel, te
plunder, vir sy landburgers te lieg en te bedrieg, te diskrimineer,
oorlogmisdadigers te ondersteun, wet en orde te ignoreer, en slegs
daarop ingestel is op selfverryking! Wat 'n skande! Die fotos hieronder
is 'n uitbeelding van die treurmare op Laaiplek waarmee ons vissermanne
elke dag mee moet saamleef - dis geheel en al onaanvaarbaar.
Department Arbeid sal dit geensins dit toelaat dat sulke haaglike en
gevaarlike werksomstandighede by enige private werksplek gehandhaaf word
nie, maar kyk hoe lyk die stand van sake van regeringsinfrastruktuur dan!




WANNEER BARBARE, IDIOTE EN
SKOEN-"DOSE" ONS
VISSERSHAWENS BETREE...
"Wie kwaad doen, moet voortgaan om
kwaad te doen, en wie vuil is, moet vuil bly, maar wie doen wat reg is,
moet voortgaan om reg te doen, en wie heilig is, moet heilig bly."
Hierdie teksgedeelte sal gevind word heel agter in die Bybel in die
laaste hoofstuk van Openbaring. Hierdie einste woorde is nie geskryf
deur Dawid, Paulus, of enige van die ander Bybelfigure nie. Nee, dis God homself
wat hierso praat! Trawler Heritage kry feitlik nou op 'n daaglikse basis
te make met elemente en gedrag in ons hawens wat geensins daarso hoort
nie. Die crew sal nog hierdie vuilgoeddrommetjie onthou wat op 1 April
2023 op Trawler Heritage vertoon was. Trawler Heritage het toe reeds
voorspel dat dit net tyd gaan wees voordat hierdie einste drommetjie van
die kaai af gegooi gaan word...en so het dit dan ook gebeur...

Afgeneem hieronder op 5 Junie 2023 lê
die einste vuilgoeddrommetjie tussen die klippe in Sandy Point hawe. Om
op te som - dis my en jou belastinggeld wat daarso
lê - vernietig deur 'n barbaar, 'n idioot, 'n skoen-"doos" of wat mens
hulle ookal mag noem!

.
|
'n GEBED VIR PELAGIESE
VIS
Heer,
hierby vra ons dat u die trotste pelagiese vloot ter wêreld sal seën met 'n
oorvloed pelagiese vis gedurende die 2023 seisoen. Hou asseblief u veilige hand
oor die vloot, vissermanne, fabriekspersoneel en die wat die kosmandjies
voorberei ten einde arbeid te kan verrig. Amen.

DIE ABC VAN SKUITE
NEE "SCOMBER", NIE SO NIE!
Nou mense, Trawler Heritage en "Scomber",
'n pelagiese skuit wat meestal werksaam is vanuit Mosselbaai en
Port Elizabeth se koerse kruis nie aldag nie. Die "Scomber" het
onlangs die Saldanhabaai skeepshelling besoek vir algemene
herstelwerk en 'n skoon laag verf en onder andere is daar nuwe
viniel naamplakkers op die skuit se whaleback toegevoeg...Afgeneem
hieronder op 23 Oktober 2023 is bykans 10 sekondes van Trawler
Heritage se lewe gemors ten einde hierdie hierogliewe geskrifte
te ontsyfer. Nee o'hel, eerstens is die Mosselbaai areakode
geheel en al opgemors, "MBA 158" is dit veronderstel om te lees.
Die visvangkode "P" (pelagies) word tradisioneel na die areakode
se nommer vertoon. Tweedens word daar nog 'n uitgediende "A"
lisensie ook vertoon. Kom ek vat julle weer terug na 1999, toe
die Suid-Afrikaanse regering die vissermanne onteien het van hul
"A" en "B" lynvis lisensies. Kyk net vandag na die toedrag van
sake in die tradisionele lynvis vissersgemeenskappe wat hul
bestaan gemaak het uit lynvis...Kalkbaai, Struisbaai, Arniston
en Gansbaai - dit gaan treurig! Terug by "Scomber"...word daar
ook nog 'n "M" lisensie vertoon, oftewel 'n pelagiese
aaspermit, wat eintlik in vandag se tye vervang word deur die
"P" visvangkode. Trawler Heritage gaan nie verder torring aan
die "M" lisensie nie, want op hierdie dag en datum vertoon "Duinekus"
nog steeds 'n "M" lisensie, en om nou met die staalskuite te
loop skoor soek, is iets waarvoor Trawler Heritage nie nou juis
rêrig voor lus is nie.

Trawler Heritage het die foto hierbo met photoshop beetgekry en
die nodige veranderinge daarop gemaak van hoe die areakode en
visvangkodes beter vertoon kon word soos uitgebeeld hieronder...

"SCOMBER" SE CHUTE, WAAR DIE SARDYNE
"SUPERTUBE" RY TOT IN DIE SKUIT SE HOLD!
Mense, ons wyk dalk nou so bietjie van koers af, maar daar
is net nog een ding wat Trawler Heritage vir die crew wil wys en
dit is "Scomber" se nuwe ontwateringskerm tesame met 'n "chute".
Nou die laaste keer dat Trawler Heritage en "Scomber" se koerse
gekruis het, het die skuit nog van die skepnet-metode gebruik
gemaak. Die manne het intussen uitgeskiet en 'n splinternuwe
vispomp tesame met 'n ontwateringskerm toegevoeg. Dis eintlik
daardie "swivel-chute" wat aandag trek, wat kompleet lyk soos 'n
"supertube" waarmee die vis tussen die skuit se holds versprei
word...siesa!

|
MOOI
SO DAFF, DIT LYK MOS BETER!
Die crew sal nog die foto hieronder onthou wat vroeër vanjaar op
Trawler Heritage verskyn het van 'n kennisgewingbord wat DAFF
gemonteer het teen die Vlekhuis se muur in Peperbaai waarop die
woord "Vleik" aangetoon is, wat inderwaarheid geen betekenis het
nie, aangesien daar nie 'n woord soos "vleik" eers bestaan nie.
Intussentyd het DAFF egter hul kop in skaamte laat sak en
stilletjies hulle fout gaan regmaak deur 'n vinielplakker bo-oor
die bestaande geskrifte te plak...
VERKEERDE SPELLING "VLEIK HOUSE" - 21 JANUARIE 2023

KORREKTE SPELLING "VLEK HOUSE" - 23 OKTOBER 2023

|
LEGENDARIESE
LYNVISSKUIT
UIT DIE VERLEDE
Afgeneem
hieronder op 22 Oktober 2023 op B-Bos anderkant Gansbaai, staan
die voormalige lynvisskuit "Normandie" feitlik nog onaangeraak
nadat die skuit gedurende die 2018 snoek-seisoen omgekeer het.
Trawler Heritage draai weer die tyd terug na 29 April 2018 toe
die "Normandie" omgekeer het, waartydens een van haar crewmanne
verdrink het. Bykans vyf weke later buitekant Elandsbaai het een
van die "Ukuloba" se crewmanne 'n gedeelte van die "Normandie"
se boeg bokant die oppervlakte sien uitsteek. Die "Normandie" is
op sleeptou geneem terug na Sandy Point hawe. Die "Normandie"
het opgeëindig by die woning van 'n pelagiese visserman wat
beoog het om die "Normandie" weer na volle glorie te herstel het,
maar gegewe die huidige toestand van die skuit, het hy nie baie
ver (indien enige) vordering gemaak met die projek nie, en het
die skuit intussentyd gemigreer vanaf St.Helenabaai na B-Bos...
|
GAAN DIE GESKIEDENIS
HOMSELF
HERHAAL?
Afgeneem
hieronder op 14 Oktober 2023 lê die jongste slagoffer van 'n
kwynende kreefbedryf op 'n mooring in Hoedjiesbaai...Hierdie
keer is dit die voormalige Oceana kreefskuit "Swartberg" wat nou
wag om 'n nuwe rol elders te vervul. Trawler Heritage draai die
tyd terug na Oktober 2017 toe nog 'n voormalige kreefskuit, die
"Atlantic Ocean" ook onttrek was uit die bedryf en feitlik op
dieselfde mooring gelê het, vanwaar daar beoog was om haar in 'n
vragboot te omskep het. Lang stories en baie trane later, is die
droom nooit verwesenlik nie, en moes die "Atlantic Ocean" einde
ten laaste gesloop word sonder dat sy 'n enkele vrag vervoer het.
Op die uiteinde was sy bestem om as 'n vertoonskuit by die S.A.
Visserye Museum op droeë grond vertoon te kon word om te dien as
'n erfenisstuk, maar nee, toe besluit ons eie visbedryf daarteen
en het die kettingsae die laaste sê gehad...kom ons hoop
dieselfde lot tref nie ook vir "Swartberg" nie. Net tyd sal leer
of die geskiedenis homself weer gaan herhaal.
"SWARTBERG"
HOEDJIESBAAI - 14 OKTOBER 2023

"ATLANTIC OCEAN"
HOEDJIESBAAI - 14 OKTOBER 2017

|
"BLITZGANS"
SE PYNE
WORD UITGEKLAAR
Nee mense,
dis nie die tikkoppe wat toegeslaan het op "Blitzgans" (Stormgans
se nuwe bynaam) se wielhuis en alles weggedra het nie. Al die
elektroniese apparate in die skuit se wielhuis is
kapoet - in kort gestel moertoe, nadat weerlig die skuit raak
geslaan het en verwyder moes word om plek te maak vir nuwes. En
dit is nog net die begin van die herstelfase - onder in die
skuit se enjinkamer is dit nog nag. Op hierdie stadium van die
seisoen het 'n man nie nog sulke bad-luck ook nodig nie.
|
GLENRYCK SARDYNE IN BRAAISOUS
Hieronder is die
nuutste toevoeging tot die reeks van Glenryck ingemaakte sardyne...Sardyne
in Six Gun Grill sous. Ja-nee wragtag, dis ook net die Suid-Afrikaners
wat hulle vis in braaisous sal blik. Trawler Heritage laat dit
aan die crew oor om een van die blikkies aan te skaf en die
inhoud vir hulself te evalueer. Die bemarkers van die plaaslike
inmaakhandelsmerke is heel waarskynlik opsoek na iets nuuts,
iets wat weer hul markaandeel kan vergroot en verbruikers se
vertroue terug te wen, maar met die huidige trend van ingevoerde
sardyne wat geblik word, is dit selfs die huiskat wat sy neus
bly optrek vir hierdie geblikte vis - g'n wonder die kat staan
en wag al in die oprit snags wanneer daar van die see af gekom
word, met 'n regte egte vars Suid-Afrikaanse sardyntjie as
beloning nie...

"Since 1937", wat julle waar vandaan gekry het? Terug in 1937
was daar nog nie eens canning fabrieke in Suid-Afrika gewees nie...
|
MAURITANIE PELAGIESE
VISEKSPEDISIE
54ste HERDENKING
19
Augustus - 6 Desember 1969
Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer ons terugdink aan 54
jaar gelede toe talle van ons oupa's, pa's en ooms vertrek het
vanuit Sandy Point hawe na die onbekende waters van Mauritanië
in 'n poging om 'n beter heenkome te bewerkstellig het vir die "Suiderkruis"
pelagiese fabriekskip, ten einde die pelagiese bronne om
Suider-Afrika te kon beskerm.

On 19 August 1969 a fleet of wooden purse seiners under command
of a breed of fishermen, of the likes we shall never see again,
set sail from Sandy Point Harbour destined for the unknown
fishing grounds of Mauritania. Accompanied by the "Suiderkruis"
factory ship, they had to leave in order to protect our pelagic
resources.
|
ONS ERFENIS - ONS TROTS!
Afgeneem hieronder tydens die 1962 pelagiese seisoen nader die "Walvis
Pioneer" die aflaaikaai by Walcano in Walvisbaai met nog 'n vrag
sardyne in haar holds, kompleet in die tradisionele "checkers"
kleurskema soos destyds gebruik was deur die Fernandes-familie.
"WALVIS
PIONEER"
Afgeneem hieronder
loop die "Rondeberg" stroom af verby voor die fabriek van AIF in
Velddrif, onderwyl die Carinus brug nog onder konstruksie was in
die agtergrond. Hierdie kaliber skuite was alreeds deel van die
tweede generasie lampara skuite wat werksaam was vanuit die
Bergrivier waarvan hul ontwerp geskoei was op die Kaliforniese
lampara skuite wat werksaam was in die V.S.A. op daardie
stadium. Ons plaaslike vissermanne het egter baie vinnig ontdek
dat die wielhuise voor-op die skuit se kop nie geskik was vir
Suid-Afrikaanse seekondisies nie, aldus het dit gelei dat alle
wielhuise na die agterstewes verskuif was.

Aangetoon hieronder met die rooi sirkel is 'n addisionele
skuitwiel bo-op "Rondeberg" se wielhuis gemonteer, wat bedoel
was om gebruik te word wanneer daar op skole vis jag gemaak
word. Die plaaslike vissermanne het dit as 'n oorlas beskou, en
het hierdie tipe uitleg nooit enige aanklank gevind in die
Suid-Afrikaanse visbedryf nie.
|
SACHAL
CHUKKIES IN DIE MARK
Vir al die Sachal chukkie
aanhangers daarbuite wat nog altyd daarvan gedroom het om jul
eie een te kan besit, hier is nou julle kans! Benewens die "Steenbrasdam"
wat hier langsaan vertoon word, is daar nog drie ander ook in
die mark op die oomblik waaronder "Malgas", "Jakkie V", en
"Jenny-Lee". Al drie skuite se besonderhede is beskikbaar op
Facebook Marketplace onder die soekwoorde "Fishing vessel for
sale" asook "Boat, fully equipped".
"MALGAS" - MOSSELBAAI

"JAKKIE V" - PORT NOLLOTH

"JENNY-LEE" - PORT ELIZABETH

|
|
" |